7de Laan akteur in sy huis oorval en geskiet

Oorspronklike artikel in Die Burger
deur: HILDA FOURIE
“Wie is hulle om my goed te vat waarvoor ek gewerk het?”
Só het Francois Lensley, Marko van die sepie 7de Laan, gister gesê nadat hy Donderdagaand in sy huis oorval en geskiet is.
Lensley het omstreeks 21:15 in sy huis in Midrand op die bank gelê en televisie kyk toe drie mans met gewere sy huis ingestorm het.“My hond het vir die eerste ou se hand gegaan. Die ou het geskiet, maar daar het nie ’n skoot afgegaan nie. “Ek het toe opgespring met my hande in die lug.“ ’n Tweede ou het sy geweer in my gesig gedruk en ek het hom met my hand uit die pad gestamp. ’n Skoot het afgegaan en my skouer se sening getref.“Die koeël het alles gemis wat dit moes mis.“Die skelms het toe my huis ‘skoongemaak’ en alles in my rooi Golfie gelaai,” het Lensley gesê.
Die skelms het Lensley met kabels vasgebind voordat hulle gery het. Hy het dit reggekry om sy hande met ’n tang los te sny en het toe die noodknoppie gedruk.Sy suster, die polisie, ’n veiligheidsmaatskappy en die nooddienste het kort daarna opgedaag.Hy is na die Tembisa-hospitaal gebring en gistermiddag weer ontslaan.Lensley sê die skelms het vermoedelik oor sy heining gespring.
“My deure was oop en die alarmstelsel was nie geaktiveer nie, want ek deel ’n huis en ek het my huismaat verwag.“Ek sou seker nog so 10 minute voor die televisie gelê het en dan die huis gesluit het om te gaan slaap. Dit het toe nie gebeur nie.“Ek is kwaad en seer, maar wat kan ’n mens maak?” het Lensley gesê.
Volgens Vuyelwa Booi, assistent-media-koördineerder van 7de Laan, wat ook Alyce in dié sepie speel, is die Lensley-gesin nog baie getraumatiseer. “Dinge kon skeef geloop het. Dankie tog die skelms het nie meer skade aangerig as wat hulle wél gedoen het nie,” het Booi gesê.


0 Comments:
Post a Comment
Links to this post:
Create a Link
<< Home